Chris-Fick van Niekerk
Ek is ʼn gebore en getoë Piketberger wat terug is in Piketberg en huise verhuur en verkoop aan Piketbergers. Jy weet wat hulle sê van ʼn profeet in sy tuisdorp, maar gelukkig is ek g'n profeet en is die mense hier vergewensgesind.
My loopbaan as eiendomsagent het eintlik al voor skool begin in Trippe Trappe. My dank aan Ma en Pa. Ma het vir my LEGOs gekoop en stories uit die Kinder Bybel gelees. Daarmee kon ek die ins and outs van huise leer, asook die belangrikheid van jou huis op die regte fondasie bou, asook dat ek nie moet huise bou nie. Pa het vir my die hele Storieman stel gekoop asook ʼn larney radio waarmee ek daglank myself kon vermaak. Hieruit het ek vinning geleer hoe lekker dit is om te jok, asook hoe belangrik dit is om altyd nie te jok nie, asook dat dit vetpret is om snarsies waarheid by wolhaarstories in te smokkel (soos chocolates by Banting).
Na Matriek het ek ʼn ses jaar scenic route gevat deur Stellenbosch. Iemand het eenkeer gesê: "Jy gaan swot filosofie sodat jy kan leer om tevrede te wees met jou armoede." Daai was ʼn wyse ou - ek wonder waar hy vandag in die wêreld is? Wyle Professor Paul Cilliers was vir my ʼn rolmodel, veral oor sy liefde vir Don Quixote en kosmaak. Ek het nie die antwoorde van al die groot vrae oor myself en die lewe gekry nie, maar ek het darem iets geleer oor armoede, bepeinsing en die belangrikheid om die lewe heldhaftig te lei. Ek het ook ʼn fris studieskuld rekening gekry.
Don Quixote was ʼn dromer en die droom wat my tóé besiel het was om in Korea my fortuin te gaan maak. Ek het toe nie ʼn fortuin gemaak of ʼn spoghuis soos Jay Gatsby gekoop nie, maar ek het teruggekeer sonder skuld en immuun teen rooipeper. Veral laasgenoemde het my met soveel bravado gevul dat ek onmiddelik jag gemaak het op ʼn groot windmeul-monster van ʼn droom: Amerika.
Soos ek my Amerikaanse Droom gedroom het sou ek vinnig ʼn Baie Belangrike Persoon word, veral in Start-Up Land San Francisco en in die uitgeleerde skaduwees van die Universiteit van Berkeley. Hierdie droom het ek goed gevoed deur ʼn bestendige toevoer boek lesery en deur my arbeid en boeiende persoonlikheid te verkoop teen minimum-loon as factotum by ʼn boekwinkel. Die perk van hierdie boekwinkel was dat ek 33% afslag op alle boeke gekry het. Met ander woorde, deur slegs ʼn uur en ʼn half van my lewe vir Dollars te verkwansel, kon ek ʼn kraakvars, geurige hardeband roman koop. Nice.
Dit is toe in hierdie einste boekwinkel waar ek ʼn belowende kopie van Rich Dad, Poor Dad gelees het. Hierdie boek het my heeltemal nuwe hoop gegee dat ek, platsak-grootbek-filosoof, rerig-erig ʼn Baie Belangrike EN Rich And Famous Persoon kon raak. En die wagwoord?
Eiendomme.
There is no good in good bye, but there is a good in good riddance. Na drie jaar in Amerika het agteros ook in die kraal van die wysgere gekom en besef maar "Oos, Wes, Tuis bes." Ek weet nie van die profete nie, maar as filosoof vind ek Piketberg ʼn puik dorp in die land van souskluitjies, beesstertpotjie en vis-en-tjips. Die kos, tesame met die daerade, skemers en smaraggroen koringlande in die winter, is van die etlike redes waarom al hoe meer mense Piketbergers wil word (filosowe ten spyt).
Oom Jannie en Jan Hendrik Fourie van AGRISELL het vir agteros (of is dit nou minotouris?) ʼn geleentheid gebied om hand by te sit met diegene wat hier in Piketberg wil woon. En dit is hoe ek sedert Maart 2018 nie net my eie drome waarmaak nie, maar ook aandag gee aan ander mense se drome - hetsy dit is om jou eie huis staan te maak óf jou eie huis te laat geld maak.
My dank aan Oom Jannie, Jan Hendrik en die Piketbergers vir hul welwillendheid, gemoedelikheid en besigheid.